‘n Botsing by die Poorte | World Challenge

‘n Botsing by die Poorte

Gary WilkersonSeptember 17, 2018

Konfronteer Duisternis met Magtige Lig

Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword met ‘n vader wat geglo het die magte van die duisternis moenie alleen gelaat word nie; hulle moet gekonfronteer word. Wanneer ons gesien het boosheid veroorsaak wanorde, moes ons nie daarvan af wegvlug nie – ons moes daarheen hardloop. As Christene is ons geskep om oorlog te voer teen die vyand van die mensdom.

Toe God die Israeliete in die Beloofde Land ingelei het, het hy vyande daar gelaat wat sy volk moes konfronteer. Waarom? Hy het dit beplan dat sy volk oorlog sou moes voer. Geen mens op enige plek op die aarde word nie deur Satan geteister nie. En as ons nie oorlog teen hom voer nie, word ons verslaan.

Die goeie nuus is, daar is aan ons wapens gegee vir hierdie stryd, en dit is nie vleeslik nie. Ons wapens word gevind in Christus – en Hy het elke stryd wat Hy ooit beleef het, oorwin.

As jy verslaan, moedeloos of neerslagtig voel, wag daar waarskynlik vir jou ‘n stryd. Talle mense verloor hulle oorloë want hulle veg nie daarvoor nie. Maar as jy na die stryd toe hardloop, sal jy oorwin as gevolg van Jesus.

Lukas beskryf hierdie stryd met ‘n botsing wat by ‘n stad se poorte plaasgevind het.

“En die dag daarna was Hy op weg na ‘n stad met die naam van Naïn; en baie van sy dissipels en ‘n groot menigte het saam met Hom gegaan. En toe Hy naby die poort van die stad kom...” (Lukas 7:11-12).

Ek sien Naïn as ‘n ommuurde gemeenskap met massiewe ysterhekke waardeur skares daagliks beweeg het. Soos Jesus nadergekom het aan daardie poorte, was die skare agter Hom waarskynlik by die duisende. Die meeste Nuwe Testament gebruike van “groot” beskryf dit as so ‘n groot getal.

Dit moes nogal ‘n gesig gewees het om te sien omdat hierdie mense gelukkig en bly was. Jesus het hulle wonderbaarlik aangeraak en sommiges van siektes genees, ander van demoniese verdrukking verlos en Hy het hulle almal bonatuurlik gevoed. Hulle liggame was siek, hulle families uitmekaargeskeur, hulle lewens verwoes – en Jesus het vir hulle lewe gebring.

Nou, terwyl hulle Naïn genader het, het hulle gesing, gedans, en sy lof besing omdat Hy hulle oorwinning was.

Net toe hierdie blye skare nader aan die poorte gekom het, het ‘n ander skare uitgekom.

“En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar” (Lukas 7:12).

Dit was ‘n begrafnisstoet, met ‘n treurende moeder omring deur haar vriende. Die treurende groep het sekerlik gewonder, “Waarom sou U hierdie tragedie toelaat, Here? Waarom gebeur swaar dinge met U kinders?”

Hulle het net die teenoorgestelde luim gehad as Jesus se skare. En terwyl die stadspoorte oopgegaan het, het die twee groepe gebots en van aangesig tot aangesig gestaan.

In hierdie soort situasie, het hoflikheid die feesvierende groep laat padgee. Dit is dieselfde soort respek wat bystander betoon wanneer ‘n lykswa by hulle verbygaan. Almal stop waarmee hulle besig is om die roubeklaers eer te betoon.

Jy kon verwag Jesus sou dieselfde soort hoflikheid betoon, sy volgelinge stilmaak en sê, “Mense, saggies. Hierdie mense rou oor ‘n groot verlies.” Maar Jesus het begrafnisse nie goed hanteer nie, Hy het elkeen wat Hy bygewoon het, geruïneer deur die dooies op te wek!

Die botsing by die poorte van Naïn, was een van dood wat deur die lewe gekonfronteer is.

Jesus het nie stil opsy gestaan om die roubeklaers te laat verbygaan nie. In plaas daarvan, het Hy die moeder, wat op die laagste punt van haar lewe moes wees, genader.

Sy het moontlik gedink, “Kan hierdie man ons nie laat verbygaan nie? Sy mense lag, hulle kinders baljaar, terwyl my kind dood lê. Waar is sy respek?”

Maar die volgende vers openbaar wat Jesus van plan was om te doen: “En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel” (Lukas 7:13). Ek hou van hierdie vers en alles wat dit behels. Eerstens, Jesus het haar gesien. Dit beteken meer as raaksien. Hy het binne-in haar gekyk op haar oomblik van grootste nood.

Vandag sien Jesus ons op dieselfde manier. Hy kyk in ons krisis, ons donkerste uur, ons hart vol nood in – en Hy het medelye. Hy het “vir haar gesê: Moenie ween nie!” (Lukas 7:13).

Wat ‘n ongewone reaksie. Sommige mag dink dit was onsensitief. Maar Jesus het vir haar laat verstaan, “Jy is oorweldig deur die gees van die dood. Maar Ek kom na jou toe met lewe. Daar is geen rede om te huil nie, omdat jou omstandighede gaan verander.”

“En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee”” (Lukas 7:14-15).

Wat ‘n ontsaglike toneel. Binne ‘n oomblik, het Christus alles omgekeer. Hy het lewe gebring waar daar slegs dood was.

Jesus bring dieselfde boodskap van lewe na elke “stadspoort” — waar mense ly, bekommerd of bedroef is.

Soms is die “poort” waar Jesus opdaag verrbasend.

Ek was ‘n rukkie gelede in Boston om te preek en ek het in ‘n hotel gebly wat ‘n klein restaurant gehad het. Terwyl ek aandete bestel het, was my hart vir een of ander rede vol medelye vir die kelnerin. Ek het nie geweet waaroor dit gegaan het nie, maar ek het geweet die Here wou hê ek moes iets vir haar sê. Toe sy die pizza wat ek bestel het, gebring het, het ek nie geweet wat die Here wou hê ek moes sê nie. ‘n Halfuur later, toe ek klaar geëet het, het ek steeds nie geweet nie. “Ek dink ek sal nagereg bestel,” het ek vir haar gesê en gestop.

Steeds sonder om iets te sê oomblikke later, het ek oorweeg om die geleentheid te laat verbygaan. Maar ek kon nie ontslae raak van hierdie diep oortuiging om met haar te praat nie. Toe sy opdaag met die koek, het ek uitgeblaker, “Ek dink ek sal nog ‘n Diëet Coke ook neem.” Toe sy loop, het ek saggies gebid, “Here, ek kan nie aanhou eet nie! Ek het regtig ‘n boodskap van U nodig.”

Hierdie keer toe sy opdaag met my koeldrank, het twee woorde in my gedagtes opgekom: “eensaam” en “beseer.” Verskoon my,” het ek gesê en my keel skoongemaak, “Jy sal dink ek is ‘n idioot, maar ek moet vir jou iets sê. Ek het vir jou gebid tydens hierdie hele maaltyd. En daar is twee woorde wat ek voel God vir jou wil sê oor jou lewe. Die woorde is ‘eensaam’ en ‘beseer.’”

Sy het geskok na my gestaar. “Hoe het jy geweet?” het sy gevra. Toe het ek ‘n vae merk op haar nek gesien. Sy het gesê, “’n Paar weke gelede het my man my geslaan en my sleutelbeen gebreek. Hy het dit al verskeie kere gedoen. So, ek het uiteindelik die moed bymekaargeskraap en hom verlaat. Vir die afgelope twee weke bly ek alleen in ‘n goedkoop hotel.”

Trane het in haar oë opgewel. “Jy is reg, ek is eensaam,” het sy gesê, “en ek is beseer. Ek kan nie glo God sou dit vir jou sê om vir my te sê nie. Ek het nie geweet God is goedhartig nie.”

Toe sy my rekening gaan haal het, het ek die Here gedank dat ek gepraat het. Maar Hy was nie klaar nie. Toe sy terugkom, het ek gesê, “Daar is iets anders wat God wil hê jy moet weet: Dit is nie die eerste keer wat jy deur ‘n man beseer is nie.”

Toe het sy begin huil. “Twintig jaar gelede was ek getroud met ‘n ander man, en hy het my ook mishandel,” het sy gesê. “Hy het my verskeie kere by die trappe afgeslaan. Ek het hom verlaat, maar het leeg en nutteloos gevoel.” Sy het bang gelyk. “Is daar iets verkeerd met my? Het ek iets gedoen om die tipe man te verdien wat ek getrou het?”

“Nee, nee,” het ek geantwoord, “God het jou lief. Dit is waarom Hy wou hê ek moet dit alles vir jou sê. Hy sien jou lewe en in jou hart in.” Met trane het sy geknik. Toe het sy my kredietkaart geneem om die rekening te gaan betaal.

Ek het ‘n botsing gesien plaasvind by die poorte van hierdie vrou se lewe. Al haar hartseer en pyn was besig om uit te kom – en die liefde van God het ingegaan. Die Here was egter nog nie klaar nie. Toe sy terugkom met my strokie, het ek ligweg gespot, “Ek is jammer – elke keer wat jy na die tafel kom, bring ek dinge op wat vir jou swaar is. Maar die Here wil hê ek moet nog een ding vir jou sê. Toe jy ses jaar oud was, het iemand jou baie seergemaak.”

Hierdie keer, het sy kwaad geword. Ek het gesluk en gedink ek het nou te ver gegaan. Sy het iets geskree en uitgestorm. Ek het ‘n paar minute gewag dat sy terugkom, sodat ek ten minste kon verskoning vra voor ek gaan. Maar toe sy terugkom, het sy hartseer gesnik.

“Ek kan nie glo wat hier gebeur nie,” het sy gesê. “Ek het nooit vir iemand gesê ek was seksueel gemolesteer toe ek ses jaar oud was nie. Ek weet nie hoe jy geweet het nie.” Ek het dit herhaal, “Ek het vir jou gesê dit was nie ek nie, dit was Jesus. Dit is sy liefde vir jou. Hy wil hê jy moet weet Hy sien jou nood en Hy het jou lief.”

Sy het haar kop geskud. “Ek het die afgelope twee weke myself aan die slaap gehuil,” het sy gesê. “Toe ek klein was, het ek nooit verstaan wat die priesters in die kerk sê nie. Maar ek onthou dat iemand uit die Bybel aangehaal het dat Jesus my liefhet. Hierdie laaste paar nagte by die hotel, het ek dit onthou. En ek het gebid, ‘Jesus, is dit waar? As U my werklik liefhet, sal U vir my op een of ander manier ‘n boodskap stuur?’”

Ek het opgestaan, haar hande gegryp, en ons het gebid en sy het Christus aangeneem daar in die restaurant. Sy het haar saligheid ontvang. Sy was genees. Toe ek haar die volgende oggend by ontbyt sien, het sy heeltemal anders gelyk. “Ek het verander!” het sy gesê. “Ek kan dit voel, ek is anders!” Sy het getuig van God se liefde en dit nie eens geweet nie.

Jesus het haar nie laat verbygaan nie – net soos Hy nie ‘n treurende weduwee laat verbygaan het nie. In beide gevalle het Hy opgestaan en gesê, “Die begrafnis hou hier op. Die dood is weg. Ek het vir jou lewe lewe gebring.”

Jesus se boodskap is nooit net vir een hartseer, bedroefde mens nie, maar vir die hele gemeenskap.

Die treurende groep by die poorte van Nain, was verander deur wat hulle gesien het. “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek” (Lukas 7:16-17).

Geen mag van die duisternis kan Jesus keer nie. Hy verander huwelike. Hy verander kinders. Hy verander gedagtes, insluitend selfmoordgedagtes. Hy verander lewenslange hartseer en pyn in getuienisse van genesing en blydskap. En Hy verander gemeenskappe en kulture.

Is daar ‘n botsing by die poorte van jou lewe? Dit is tyd om te hardloop na die duisternis en lewe in Jesus se Naam te proklameer. Gebruik elke geleentheid wat Hy oor jou pad bring, en kyk hoe Hy wonderwerke verrig. Hy roep ons om in hierdie stryd in te hardloop met genesing en hoop. Mag ons getrou wees om dit te doen. Amen!

Download PDF