Jesus Liefhê | World Challenge

Jesus Liefhê

Gary WilkersonDecember 17, 2018

Wanneer jy lank genoeg in die bediening is, begin jy ‘n pendulumswaai in die kerk se lering opmerk. Soms is die klem op een onderwerp vir ‘n tyd lank. Dan swaai dit in ‘n teenoorgestelde rigting vir ‘n rukkie.

Dit is gewoonlik ‘n goeie ding. Wanneer ‘n nuwe klem verskyn, is dit gewoonlik omdat die die kerk in daardie gebied te kort geskiet het. Ons sien dit gebeur dwarsdeur Paulus se sendbriewe. Die een oomblik moedig hy Christene aan om opofferend te gee, en die volgende oomblik bestraf hy die werke van godsdienstige wettiesheid. Hy beklemtoon die eindelose, oorvloedige genade van God, en bestraf dan vinnig roekelose sonde en leer ons om wettelose Christene oor te gee aan die duiwel. Natuurlik het al hierdie leringe die krag van die Heilige Gees agter hulle. En elkeen is bedoel vir ons in die verskeie seisoene van ons lewe.

Vir ‘n aantal jaar nou, beklemtoon die boodskappe wat ek hier skryf God se ontsaglike liefde vir sy kinders. Ek het gevoel dit was belangrik om jou op hierdie manier te bemoedig, want ek sien en hoor van so baie wat vasgevang is in ‘n eindelose siklus van selfveroordeling. Hulle voel nutteloos in God se oë, want hulle het gedink hulle stryd diskwalifiseer hulle vir die koninkryk se werk waarvoor Hy ons geroep het.

My klem is die volgende: Ons kan Hom nie behoorlik dien nie, tensy ons die dieptes van sy liefde ken. Soos Johannes skryf, “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).

Ek vertrou jy het voordeel getrek uit daardie lering. Dan, oor die afgelope jaar, mag jy ‘n effense swaai in die pendulum opgemerk het. Ek het baie geskryf oor die werke van Jesus doen. Dit het te doen met die liefde wat God vir ons betoon het en dat ons self daardie liefde moet vergestalt. Met ander woorde, ja, ons moet absoluut die Here se liefde in ons harte ontvang – en dit is ook belangrik om Hom terug lief te hê.

Ons het eintlik ‘n roeping om God lief te hê soos Hy ons liefhet.

Hoe lyk dit presies? Daar is geen beter Bybelse illustrasie hiervan nie, as die toneel waar Jesus ‘n feesmaal nuttig by ‘n Fariseër en ‘n “straatvrou” opdaag.

“En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe ’n vrou in die stad, wat ’n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ’n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf” (Lukas 7:36-38).

Vir my is dit een van die mees hartroerende tonele in die hele Woord van God. Dit is ‘n ongewone situasie: ‘n Vrou wat ons maar kan aanvaar ‘n prostituut was, het ingedring by die dinee van ‘n vooraanstaande godsdienstige leier. Die was ‘n ongemaklike oomblik – tog het dit alles te doen met Johannes se stelling, “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het” Die gedeelte verduidelik waarom.

“Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ’n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.

“’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel” (Lukas 7:39-43).

Jesus se punt aan Simon is duidelik. Hy verduidelik, “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief” (Lukas 7:47).

Hierdie vrou, emosioneel beroof deur die lewe wat sy gelei het, het God se liefdevolle genade so kragtig ervaar, dat sy Hom moes terug liefhê. Daarom het sy ‘n offerdaad van liefde geïnisieer – een wat haar baie gekos het. Sy het met blydskap die prys betaal, nie net in terme van die duur salf nie, maar ook haar eie waardigheid. Terwyl sy openlik gehuil het, het sy by Jesus se voete gekniel en hulle gewas.

Wat ‘n diepgaande intieme oomlik; sy het haar hart so ontbloot dat dit ‘n verleentheid moes gewees het vir die mense aan die tafel. Tog het Jesus dit geëer deur die eeue heen. Daar is ‘n teer boodskap van genade in hierdie toneel, maar dit is nie net vir die sondige vrou nie – dit is hoofsaaklik vir Simon die Fariseër.

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan meer met Simon identifiseer in hierdie storie.

Niemand hou daarvan om aan hulleself te dink as ‘n stereotipiese Fariseër nie – rigiede, sedelike figure wat Jesus meestal teëgestaan het. Maar verskeie Christelike skrywers dui aan dat hulle juis diegene in die Skrif is na wie se lewens ons s’n die meeste lyk. Dit is nie omdat ons Jesus teëstaan nie, maar omdat ons hard probeer om opregte, eerlike lewens te leef soos hulle. En – laat ons dit erken – omdat ons selde die behoefte vir vergifnis ervaar.

Ek weet nie van jou nie, maar ongeveer 95 persent van my intimiteit met God is wanneer Hy dit met my inisieer en ek reageer. Sy liefde sal op my neerdaal op een of ander manier – byvoorbeeld, deur aanbidding by die kerk, wanneer ek my hande ophef tot Hom; of wanneer ek studeer om ‘n preek te lewer en Hy opdaag om vir my ‘n gepaste woord te gee. In daardie oomblikke, reageer ek op sy liefde met groot dankbaarheid.

Maar wat van die meeste van die res van die tyd? Wat van al daardie oomblikke wanneer daar nie ‘n aanbiddingspan voor ons is, of ‘n salwing op ons gedagtes is nie?

Vir die meeste van die tyd wanneer ons wakker is, word ons nie bearbei of in beroering gebring tot liefde vir God nie. Hoe dikwels inisieer jy ‘n uitreiking na Jesus en sê, “Here, ek wil U bedien; ek wil my hart uitstort in liefde tot U”?

Dit is wat die sondige vrou gedoen het toe sy na Simon se dinee gekom het. Sy het duidelik vergifnis beleef op een of ander manier. En op hierdie nag, het sy ‘n spesiale poging aangewend om haar dankbaarheid te bewys. Sy het ‘n bedrag betaal vir ‘n duur salf, sy het uitgevind waar Jesus was en sy het haarself verneder in die geselfskap van vreemdelinge om haar dank uit te stort, maak nie saak wie haar sou veroordeel nie.

So, wat van Simon, die Fariseër? Hy was ontsteld oor die vrou se daad. Alle aanduidings is dat hy ‘n goeie man was wat ‘n sedelike, eerlike lewe gelei het. Ek kan daarmee identifiseer. Ek het nie die dramatiese getuienis van ‘n sekswerker, soos daardie vrou, of van ‘n alkoholis of dwelmsmous of bendelid nie.

Miskien is jy soos ek – iemand wat in ‘n goeie huis grootgeword het, ‘n sedelike, goddelike lewe gelei het deur die jare heen. Jy word nie dikwels gedring om jou liefde vir Jesus te demonstreer op die manier wat hierdie vrou gedoen het nie. Waarom nie?

Dit is die vraag wat Jesus vir Simon gevra het. En Hy het dit gedoen deur drie dinge op te noem:

“Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ’n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief” (Lukas 7:44-47).

Subtiel, maar duidelk, het Jesus vir Simon gesê, “Miskien is die een wat ‘baie vergewe’ moet word, nie hierdie vrou nie. Miskien is dit jy, Simon. Miskien het jy My nie so lief nie, omdat jy nie jou behoefte vir vergifnis raaksien nie.”

Hoe maklik is dit vir Christene – selfs hulle in die bediening – om hulleself te sien as iemand wat baie min vergifnis nodig het.

Terwyl ek hierdie gedeelte lees, besef ek dadelik dat ek die een is wat Jesus se boodskap moet hoor. Ek lees dit egter nie as ‘n veroordelende bevel om “Net meer dankbaar te wees” nie! Daar is geen aanduiding dat Simon niks anders as goddelik was nie.

Nee, ek lees Jesus se woorde aan Simon hier as ‘n pragtige uitnodiging. Dit is ‘n uitnodiging om ‘n knaende vraag te vra wat so baie van ons affekteer: “Waarom voel ek nie meer Jesus se liefde nie? En waarom voel ek nie meer liefde vir Hom nie? Die meeste van die tyd voel dit asof ek net deur die mosies gaan.”

Glo my, hierdie vrae teister baie mense in die bediening. Ek is ‘n sesde geslag bedienaar in my familie en ek is beide trots en nederig daaroor. Maar dit is maklik vir iemand soos ek om dae lank voort te gaan sonder om te dink dat ek God nodig het. En my sonde in daardie geval, het net soveel gevolge as die persoon wat dwelms op die straathoek verkoop. Waarom? Omdat Jesus vergete is in my hart, terwyl die wêreld wat Hy voor my plaas, aanhou tol in duisternis.

Die prag van hierdie hartroerende toneel in Lukas is dat Jesus ons leer hoe om Hom lief te hê. Dit is treffend dat selfs toe Hy met Simon gepraat het, Hy sy oë gehou het op die vrou en haar growwe demonstrasie van liefde. “Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog” (Lukas 7:44).

Dit is asof Jesus sê, “Jy kon net sowel dit ook gedoen het, Simon. Die ete was heerlik, die teologie geselsie was uitmuntend en dit is wonderlike geskenke aan My. Maar Ek wil net jou liefde hê.”

Hierdie Kersfees, vier ons weereens die Vader se liefde as die grootste geskenk wat ons ooit ontvang het. So, wat is jou reaksie? Sal jy net deur die mosies gaan? Of sal sy wonderlike genade aan ons – ‘n goeie werk, ‘n liefderyke familie, kinders wat veilig en gelukkig is – ons op ons knieë bring om sy voete te was, en dit af te vee met trane van dankbaarheid?

Ek vra jou dieselfde vraag wat ek vir myself vra. “Hoe sal wees vir my om Hom terug lief te hê? Om intimiteit te inisieer met die Saligmaker en Here wat so lief is vir my?” Ek sê aan elke “goeie en opregte” persoon soos ek: Ons is geroep om die vlam van God se liefde te versprei. Maar ons kan nie weggee wat ons self nie besit nie. Ek dring by jou aan, ontvang sy liefde – en hê Hom terug lief. Dit is die diepste betekenis van ontvang en gee – en die begin van ‘n innige vervulde lewe. Mag jy in hierdie seisoen die innigste gemeenskap wat jy al ooit gehad het met jou genadige, liefdevolle Here en Saligmaker beleef. Amen!

Download PDF